jump to navigation

Rosé Desember 14, 2007

Posted by unobastardo in Wynfeite en gesels.
3 comments

Bertus het my gevra om bietjie oor rosé te skryf en ek het toe bietjie gaan oplees, want ek is nie self ‘n kenner of maker van Rosé wyn nie. Ek het egter self ook ‘n voorliefde vir hierdie miskende wyne, in plaas van die meer snobistiese rooiwyne.

Rose Wine

Rosé is ‘n pienkerige kleur wyn. Die wyn se kleur kan eintlik strek van ‘n bleek oranje tot ‘n helder amper-pers, afhangende van watter soort druiwe en watter wynmaak tegniek gebruik is.

Onlangs is daar groot makietie gehou toe een van Suid-Afrika se mees herkenbare wyne – Lanzerac Rosé – teruggekeer het. Die handelsmerk het eers aan die Stellenbosch Boerewynmakery (nou Distell) behoort, maar is nou die eiendom van Lanzerac eienaar, Christo Wiese en sy seun, Jacob.

Dié ou bekende word hoofsaaklik gemaak van Pinotage (85%) en word Lanzerac Pinotage Rosé genoem. Dis heel toepaslik, want die wêreld se eerste Pinotage was die Lanzerac Pinotage 1959.

Met die Lanzerac Rosé word daar beoog om die gemiddelde Suid-Afrikaanse verbruiker die potensiaal van ‘n klassieke Rosé te laat ontdek. Meeste Rosé wyne is semi-soet of effe-droog. Lanzerac Rosé is ‘n lewendige rosé wyn, in die oorspronklike Vin Rose-vorm bottel.

Lanzerac se wynmaker, Wynand Lategan, beskryf dit so: “Hierdie wyn is in die klassieke styl vir Rosé gemaak, vars en skoon met ‘n talmende nasmaak. Die tanniene gee genoeg klemlengte aan die wyn om dit saam met kos te geniet. Die Pinotage-druiwe skep geure van vroeë somervrugte soos soet aarbeie, youngbessies en sweempies van rooibosbessies. Vyftien persent van die wyn bestaan uit Cabernet Franc, wat ‘n bietjie speserye byvoeg en ‘n droë nasmaak skep.

Dit het groot potensiaal in die winkel- en restaurantmarkte, veral as ‘n aptytwekker in die somer en saam met ligte middagetes soos vis, vrugteslaai, kreef, pasta en soet patat. Ons wou met hierdie wyn ‘n stelling maak en dit kan gesien word as ‘n voorloper vir die meer ernstige styl van Rosé wyne.”

Die Pinotage en Cabernet Franc druiwe van die Lanzerac wingerde waarvan die Rosé gemaak is, is met die hand sorteer en ontstingel voor dit deur die pulpverkoeler gepomp is. Hierdie Rosé is op dieselfde basis as tenkgegiste witwyn gemaak. Die sap was net vir agt ure in kontak met die rooi druiwe doppe, om die “pienk” kleur te verkry.

Daar is drie hoofmaniere om rosé wyn te maak.

Die eerste is wanneer rosé die hoofproduk is. Rooi druiwe word fyn gepers en die doppe word vir ‘n kort tydjie, nie meer as twee tot drie dae, in die sap gelos. Die druiwe word dan gepars en die doppe word weggegooi. Dit word nie, soos met die maak van rooiwyn, gelos om saam met die sap te gis nie. Omdat die doppe die meeste van die sterk gegeurde looisuur (tannien) en ander komponente bevat, laat dit die rosé wyn meer soos wit wyn proe. Hoe langer die doppe in kontak gelaat word met die sap, hoe meer intens is die kleur van die eindproduk van die spesifieke rosé.

Die tweede proses word saignée of bloeding genoem. Dit gebeur wanneer die wynmaker meer tannien en kleur aan ‘n rooiwyn wil gee. Dus verwyder hy van die pienk sap uit die mos op ‘n vroeë stadium – dit word ‘bloei van die vate’ genoem. Die verwyderde pienk sap word dan apart gefermenteer, wat ‘n rosé as byproduk van die rooiwyn produseer. Die rooiwyn is ‘n baie intenser kleur as gevolg van die bloeding, omdat die volume sap in die mos baie minder is. Die mos wat dus betrokke is by die wynmaakproses, is baie meer gekonsentreerd.

Die derde proses is bloot vermenging, waar rooiwyn eenvoudig by witwyn gevoeg word vir die kleur. Hierdie proses is onaanvaarbaar in meeste wynproduserende streke, behalwe Champagne. Daar is egter selfs in Champagne produsente wat glad nie hierdie proses gebruik nie.

Histories was rosé ‘n delikate, droë wyn, gesertifiseer deur Anjou rosé uit die Loire. Die oorspronklike claret (rooi wyn) was ‘n blekerige wyn van Bordeaux wat heelwaarskynlik vandag beskryf sou word as rosé.

Na die Tweede Wêreldoorlog was dit mode om mediumsoet rosé wyne vir massaverbruik te produseer. ‘n Klassieke voorbeeld is die Mateus Rosé en Amerikaanse “blush” (wat ligrooi beteken) wyne.

Die pendulum swaai nou terug na droër, meer ‘stylvolle’ rosé wyne. Hierdie wyne word gemaak van Rhône druiwe, soos Syrah, in warmer streke, soos Australië. En dan nou ons stylvolle nuwe, ou Lanzerac Rosé!

Nog rooiwyn gesels November 30, 2007

Posted by unobastardo in Wynfeite en gesels.
1 comment so far

Nog wynfeite vir dié wat belangstel – die belangrikste druiwesoorte vir rooiwyn:

Die Barbera is ‘n druiwesoort wat veral in Italië verbou word en eersterangse rooiwyne kan oplewer. Dikwels word barriques (eikevate) gebruik om die wyn af te rond. Een van die bekendste wyne is die Barbera d’Asti.

Die Cabernet Sauvignon word oorspronklik in die gebied van Bordeaux in Frankryk verbou. Vandag is dit een van die mees verboude druiwesoorte ter wêreld. Die wyne het dikwels ‘n bessieagtige smaak en kan vir ‘n langer tydperk gestoor word.

Dornfelder is ‘n gewilde soort in die wynbougebiede van die Palts en Rynhesse in Duitsland. Dit lewer vrugtige en diepkleurige wyne op, met ‘n geur van vlier, kersie en braam. Die kultivar is taamlik jonk en word vir die eerste keer in 1955 gekweek. Die druiwesoort is vernoem na die Duitse wynboudeskundige Immanuel Dornfeld. In die kookkuns is die wyn ‘n geskikte begeleier van wild-, vark-, bees- en kalfvleisgeregte.

Die Merlot word wêreldwyd verbou en lewer diepkleurige wyne met min looistowwe en geure van speserye, pruime en bessies op. Sy kenmerke is die swartblou kleur van die druiwe en die dun skille. Die wyn is afkomstig van die omgewing van Bordeaux; die oudste bronne, wat hierdie kultivar noem, dateer uit die jaar 1784. Die wyn pas by kaas- en hoendergeregte.

Die Nero d’Avola is ‘n druiwekultivar van Suid-Italië en Sisilië vir donker en sagte wyne. Wyne wat in eikevate verouder word, kan later vir ‘n lang tydperk gestoor word.

Die Pinot Noir (dikwels ook Spätburgunder of Pino Nero genoem) staan internasionaal as een van die fynste kultivare bekend en word orals verbou. Die volronde, geurige wyne soos die Bourgognewyn kan mettertyd duidelik van smaak verander.

Die Sangiovese is die bekendste kultivar van die Toskana en dien onder meer as basis vir die Chiantiwyn. Dit word wêreldwyd verbou.

Die Shiraz of Syrah behoort tot die oudste kultivare en word oorspronklik veral in Frankryk verbou. Die volronde, jong wyne bevat baie looistowwe en word mettertyd sagter. Sy komplekse geur herinner aan speserye soos peper, maar ook aan bessies en geroosterde neute. Die wyn vertoon ‘n elegante rooi kleur. Die druiwesoort gedy in die meeste wynboulande en is baie gewild in Suid-Afrika en Australië waar dit eersterangse wyne oplewer. In die suide van Frankryk is die kultivar die basis vir ‘n aantal versnitte soos die Chateauneuf-du-Pape.

Die Tempranillo is een van die beste rooi kultivare van Spanje met volronde, vrugtige en diepkleurige wyne. Die wyn begelei in die kookkuns hoender-, varkvleis-, pasta- en kaasgeregte.

Die Zinfandel van Kalifornië is die basis vir volronde, geurige droë en dikwels vrugtige wyne. Waarskynlik is die kultivar nou verwant of selfs identies met die Primitivo van Apulië (Italië).

Jou eie wynkelder November 14, 2007

Posted by unobastardo in Wynfeite en gesels.
7 comments

‘n Eie wynkelder is maar elke wynliefhebber en versamelaar se droom. Wyn is en bly ‘n natuurproduk, ‘n produk wat lewe en dus deur die omgewing beïnvloed word.

wynrak.jpg

Om jou eie wynkelder te hê, het ‘n paar voordele:

Jy kan jou eie wyn met die ouderdom laat verbeter. Swaarder rooiwyn, houtverouderde witwyn en gefortifiseerde wyn verouder goed, mits dit van goeie gehalte is. ‘n Swak wyn word nooit beter met veroudering nie.

Jy kan jong wyne wat goed sal verouder teen ‘n billike prys koop.

Daar is ‘n paar vereistes vir die inrig van ‘n eie kelder. Jy moet die hoeveelheid wyn wat jy wil verouder in ag neem. Dit sal die grootte van jou wynkelder bepaal. ‘n Spasie van 2.5m x 3m,  met ‘n plafon 2.5m hoog is genoeg om ongeveer 2 250 bottels te bêre. As jou spasie beperk is, sal jy ongelukkig maar tevrede moet wees met minder bottels.

Daar is twee tipe kelders. ‘n Aktiewe kelder is een wat verkoel word en ‘n passiewe kelder is sonder enige ekstra verkoeling. ‘n Ideale passiewe kelder behou ‘n konstante temperatuur en humiditeit. Die temperatuur moenie meer as 6 grade wissel deur die hele jaar nie. So ‘n kelder is gewoonlik ondergronds en omring deur twee tot drie ‘aardmure’. Al wat jy hoef te doen, is om rakke in te sit en jy het ‘n kitskelder!

‘n Aktiewe kelder is gewoonlik bogronds en dus deel van jou huis. Bogronds is natuurlik warmer en die temperatuur bly nie konstant nie. Jy sal dus die kelder moet verkoel en isoleer en moontlik ook die humiditeit moet beheer.

Jy hoef nie ‘n reuse kelder te laat bou nie. As jou min ruimte het, kan jy daardie kas of area  onder die trap of ‘n goed-geïsoleerde garage inrig.

‘n Paar belangrike punte om in gedagte te hou met die inrig van jou kelder:

  • 1. Die wynbottels moet op hul sye lê sodat die kurkproppe nat bly en lug dit nie kan binnedring en die wyn laat oksideer nie.
  • 2. Vir jou rakke, kies ‘n houtsoort wat nie gou sal verweer of muf nie, soos rooihout, mahonie, rooi eikehout of denne. Jy kan selfs vlekvrye staal-rakke ook kies.
  • 3. Stoor die bottels met hul etikette na bo sodat jy kan sien wanneer sediment aan die teenoorgestelde kant vorm en die wyn dalk gereed is vir drink. Gefortifiseerde wyn kan regop staan. Onthou om ook groter rakke in te rig vir magnum-grootte bottels.
  • 4. Die mure en vloeroppervlak moet sover moontlik waterdig wees. Verf die buitenste mure en dak van die kelder wit om hitte-absorbering van buite af te verminder. Dit sal die temperatuur binne-in die kelder laag hou. Verf die binne-mure swart om uitstraling van hitte minder te maak. Die deur moet ordentlik kan seël. ‘n Dubbele deur is beter. Só maak jy seker van konstante temperatuur en dat jy nie te veel lug of lig inlaat nie.

Die ideale temperatuur vir die berging van witwyn is ongeveer 12 grade en vir rooiwyn tussen 16 en 18 grade Celsius. ‘n Temperatuur onder 10 grade sal jou wyn baie stadiger laat verouder. Wyne wat weer te warm kry, verouder te vinnig en sal dus nie so kompleks wees nie. Te veel warmte, soos direkte sonlig, sal die wyn verkleur en kan die wyn selfs laat “af” gaan. Wyn moet ook nie te koud kry nie. ‘n Vrieskas sal beslis skade aanrig. Afsaksels kan in die wyn vorm.

Meer belangrik, is dat die temperatuur relatief konstant moet bly. Skielike stygings of dalings in die temperatuur sal beslis die wyn se gehalte meer beїnvloed as ‘n minder ideale temperatuur wat egter konstant bly. ‘n Paar grade tussen bv. somer en winter doen dus minder skade as ‘n skielike daling van tien grade. Die vloeistof in die bottel sit dan effens uit en “krimp” weer. Dit kan die kurk só beskadig dat dit minder dig seël en lug kan dit binnedring. Dit is fataal. Wees veral versigtig vir ouer wyne waarvan die kurke dalk al brosser is.

As daar ‘n taaierige vloeistof om die bottel se bek en boonste deel van die nek vorm, kan jy maar weet die temperatuur wissel te veel.

As jy nie ‘n groot versameling wyn het nie, kan jy ‘n losstaande wyneenheid met sy eie temperatuurbeheer in plaas van ‘n wynkelder aanskaf. Só ‘n eenheid kan ‘n hele paar bottels wyn hou. Sommige lyk soos ‘n houtkabinet, ander weer soos ‘n mooi yskas.

Die humiditeit van jou kelder is belangrik en moet verkieslik tussen 50% en 80% wees, maar 70% is ideaal. Dit keer dat die wynproppe krimp of uitdroog en dat lug die proppe binnedring.

Wyne met beskadigde etikette verloor hul identiteit en verkoopswaarde. Jy kan etikette met kleefplastiek bedek om hulle te beskerm.

Vermy direkte sonlig of skerp lig. Direkte sonlig sal die wyn beskadig. Dis waarom wynmakers dikwels donker bottels gebruik.

As jy ‘n area moet inrig waar die lig effens te skerp is, kan jy ‘n gordyn voor jou wynrakke hang of selfs jou rakke met lakens of komberse bedek.

Vermy ook harde geraas en vibrasies sover moontlik. Dit kan die normale vorming van sediment in rooiwyn beÏnvloed. Moet byvoorbeeld nie jou wyn naby ‘n wasmasjien of raserige yskas bêre nie.

Probeer om nie bottels wat “rus” rond te skuif nie. Plaas jou wyn so dat jy nie ‘n hele rak moet uitpak om by ‘n spesifieke bottel uit te kom nie.

Moenie jou wyn naby sterk geure soos knoffel of uie hou nie. Dié geure kan die kurk binnedring en die wynsmaak beÏnvloed. Moet ook nie vrugte of kos wat insekte kan lok naby jou wyn hou nie. Insekte kan die proppe beskadig.

*As jy glad nie plek het om ‘n wynrak of wynkelder in te rig nie, kan jy wyn laat stoor. Die Bergkelder Vinotíque op Stellenbosch is die ideale verouderingsplek. Jy betaal ‘n minimale jaarlikse fooi (sowat R30) en jou wyn word onder die ideale omstandighede geberg. Jy ontvang ook deurgaans verouderingsverslae. Skakel (021) 809-8280 of besoek http://www.vinoteque.co.za/.

Bykomende bronne

www.organizes-it.com/winetips.php
www.intowine.com/cellar.html
www.stratsplace.com/rogov/art_build_cellar.html
http://http:/wineracks.vigilantinc.com/wine-ideal-conditions.asp
http://www.wineracksamerica.com/