jump to navigation

If tomorrow never comes April 5, 2008

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
3 comments

Slanghoek Vallei November 6, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
15 comments

slanghoek.jpg 

Alhoewel ek ‘n boorling van die Boland is, is ek nie een van die gebore Slanghoek inwoners nie. Dit is geslagte en geslagte wat hierdie vallei bewoon. Vir hulle is die vallei hulle trots, hulle brood en botter, hulle lewe. Ek het maar net, soos die ou mense gesê het, met my spreekwoordelike agterent in die botter geval.

Maar ek wil graag vertel van hierdie vallei wat diep, diep onder my vel ingekruip  het. En van die omgewing rondom die vallei – Worcester en Rawsonville. En aan die einde van hierdie reistog – die beloofde verhaal agter die naam van die vallei – Slanghoek.

Die naaste groot dorp is Worcester. Worcester is 120 km noord-oos van Kaapstad geleë, in die Breërivier vallei. Worcester het in 1820 ontstaan na die samesmelting van twee plase, Roodewal en Langerug.

 worcester.jpg

Gedurende die 18de eeu was daar ‘n paar verspreide plase en nedersettings in die vallei. Meeste van die grond is gebruik vir weiding en het so te sê onbewerk gebly tot vroeg in die 19de eeu. Goewerneur Lord Charles Somerset het die setel van die landdros van Tulbagh af verskuif na Worcester, wat vernoem is na sy broer, die Markies van Worcester.

Wingerde is aangeplant en teen die 1860’s het die oeste goed vergelyk met dié van Stellenbosch en Paarlvallei. Meeste van die oes is gedroog vir rosyne, maar na die Tweede Wêreldoorlog het die vraag na rosyne afgeneem en meeste van die boere het begin om wyndruiwe aan te plant.

Dit was so suksesvol dat die vallei vandag die grootste wynproduserende streek in Suid-Afrika is. Worcester kry sy meeste reën in die winter, ongeveer 175 mm per jaar. Alhoewel die Breëriviervallei self tussen 500 en 1000 mm reën per jaar kry, bly die dorp Worcester maar oor die algemeen droog.

Worcester is grotendeels ‘n boeregemeenskap. Die KWV Brandewyn Distilleerders is ook hier, die grootste van sy soort in die wêreld. Tot baie onlangs het die ekonomie ietwat stagneer, maar onlangs is die nuwe Mountain Mill winkelkompleks en ‘n nuwe casino hier oopgemaak. Dit beloof ‘n inspuiting aan die ekonomie van die dorp.

Worcester is natuurlik ook baie bekend vir die De La bat skool vir dowes en die Pionier skool vir blindes.

Die skrywer J.M Coetzee het as kind in Worcester gebly en beskryf dit in sy boek ‘Boyhood’. Ook David Kramer, die bekende sanger, kom van Worcester. C. Louis Leipoldt is in 1880 in Worcester gebore.

Rawsonville is ‘n klein wynverbouing en boerdery gemeenskap in die Breëriviervallei. Die jaarlikse Breedekloof Buitelugfees word ook hier gehou. Die dorpie se ekonomie is grotendeels afhanklik van die omliggende plase, maar toeriste wat al hoe meer naweke hierheen uitwyk, dra ook ‘n groot deel tot die dorp se inkomste by. Rawsonville is 90 km van Kaapstad en 15 km wes van Worcester.

rawsonville1.jpg

Rawsonville is geleë in ‘n pragtige deel van die vallei, aan die oostelike kant van die Du Toitskloof berge.

Die grootste konsentrasie wynplase is in die Slanghoekvallei en Rawsonville areas, teen die Slanghoek, Du Toitskloof, Waboomberg en Riviersonderend bergreekse.

In die Slanghoekvallei bestaan die grond uit sanderige leem, met ‘n variasie van los klippies en ‘n redelike hoë water inhoud. As gevolg hiervan moet die grond gedreineer word ter voorbereiding vir die wingerd. Daar is ook ryk alluviale grond op die rivier oewers. Dit alles beteken dat verskeie wingerdsoorte hier verbou kan word.

Hoe die Slanghoek Vallei aan sy naam gekom het.

Vreemd genoeg is die verhaal agter die naam van die Slanghoek Vallei nog nooit geboekstaaf nie. Dit is maar net so van geslag tot geslag mondelings oorgedra. My dank aan Pieter Carstens, wynmaker van Slanghoek Wynkelders wat hierdie verhaal vertel het en ek skryf dit dan nou hier neer vir die annale van die kuberruim.

Die plase wat aan die Franse Hugenote toegeken is, was aan die Paarl se kant van die Du Toitskloof berge. Hulle het hoofsaaklik met vee geboer en in die somermaande was daar te min weiding vir al die vee, aangesien dit droog is in die somer. Die vee, met hulle veewagters, is dan oor die berg gestuur om weiding te gaan soek.

Hulle het nie die tradisionele roete oor Du Toitskloof gevolg, soos ons dit vandag ken nie. Hulle het ‘n kortpad oor die berg gehad, oor die Spring Stiebeuel.

In die een hoek van die vallei, was daar ‘n moerasagtige deel. Omdat die vallei so omring is met die berge, was daar nie ‘n natuurlike uitloop vir reënwater nie – dit is deur die omringende berge gestop. Die vallei self het dan ook een van die hoogste reënvalsyfers in die land, 1500 tot 1700mm per jaar.

Oos lê die Badsberge en wes lê die Du Toitskloofberge. Dit het ook ‘n wye verskeidenheid fynbos, waarvan omtrent 7 soorte bedreigde spesies fynbos is. Slanghoek se fynbos heet die aluvium fynbos.

breedevalley.jpg

In die hoek van die vallei, in die moerasagtige water, was geweldig baie palings en die veewagters het dit Slanghoek gedoop. So dit is as gevolg van palings, en nie regte slange nie, wat die vallei die naam Slanghoek gekry het.

Vandag is daar ongeveer 15 plase in die vallei. Met die koms van die boere na die vallei toe, is die grond beter dreineer, die moeras het verdwyn en die palings het uitgesterf.

Ander oorlewering vertel ook dat die vallei vernoem is na die kronkelende bergreekse, wat soos ‘n slang lyk uit die lug uit.

bergreeks.jpg

Dan is daar ook nog die legende oor hoe Slanghoek sy naam gekry het. Veewagters het geglo by een van die natuurlike poele woon ‘n slang met ‘n edelgesteente in sy mond. Wanneer die slang gaan bad, haal hy die steen uit sy mond uit en los dit langs die poel. Vir ewige geluk moes mens net aan die steen gaan raak.

As mens egter selfsugtig sou wees en die steen steel, sou die slang sy stert in sy mond vasbyt en agter jou aanrol, soos ‘n wawiel en jou so volg, waar jy ook al gaan. Die enigste manier om dan ontslae te raak van die slang, sou wees om die steen onder ‘n hoop koeimis weg te steek. Die slang kon jou dan nie meer volg nie, maar die slang sou ook nie die steen kon kry nie en sou dan doodgaan van die hartseer.

En dit is die storie van die Slanghoek Vallei.

plaaswerkers.jpg

Word jy geken aan jou boeke? November 3, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
10 comments

‘n Mens word geken aan jou vriende. Word ‘n mens ook geken aan die musiek waarna jy luister en die boeke wat jy lees?

DING vra my watter boeke ek lees en dit laat my toe met nuwe oë na my boekversameling en sommer musiek ook kyk.

Op die tafeltjie langs my stoel in die leefkamer, lê die volgende:

Taalgenoot; Huisgenoot (ja, ek bieg – ek lees dit!); die laaste uitgawe van Insig; kakkerlak en die nuwe Boeke-Insig. Elkeen is plek-plek gelees en sal van hier af seker verskuif na die hopie in die een hoek van die studeerkamer. O ja, en vandag se Burger – dié lees ek van hoek tot kant. Ek lees net Saterdae die koerant en vang dan maar so op met die week se nuus. Die res van die week kyk ek maar die nuus, vir wat dit werd is.

Hier lê ook ‘Kopkrap vir ‘n jaar – 365 kriptiese en gewone blokkiesraaisels’. So elke nou en dan doen ek een – ek glo dis goed om die breinselle so bietjie te toets.

Op die oomblik lees ek verwoed aan The Innocent Man deur John Grisham. Dis die ware verhaal van Ronald Williamson wat verkeerdelik skuldig bevind en tronk toe gestuur is en hoe hy sy onskuld bewys het. Dis ‘n aangrypende storie en ek wil dit skaars neersit. Grisham is dan ook een van die skrywers wie se boeke ek altyd koop en lees.

Op die rakkie onder die koffietafel lê Dances with Devils van Jacques Pauw. Ek lees moeilik hieraan – dis ‘n ‘skop-in-die-maag’ boek.

Langs my bed is die heel nuutste vertaling van die Bybel en dan die vertaalde Afrikaanse dagstukkies van Angus Buchan, wat ook Faith like Potatoes geskryf het. En 32 Battalion deur Piet Nortje. Hierdie boek sny diep in my are in, dis my persoonlike reis en ek wil nie veel meer daaroor hier skryf nie.

Op my lessenaar in my studeerkamer lê die volgende twee nuwe boeke, wat ook net wag vir ‘n leeskans. 1408 van Stephen King en Asbesmiddag deur Etienne van Heerden. Wyd uiteenlopend, maar altwee is skrywers wat ek nie sommer miskyk in ‘n boekwinkel nie.

En in my boekrak, op die boonste rak, sommer so met die eerste oogopslag, sien ek:

White Thorn – Bryce Courtenay (ek lees ook al sy boeke, het feitlik die hele versameling)

The Secret – Rhonda Byrne (moet hierdie nog lees)

The Dark River – John Twelve Hawks (moet nog eers The Traveller klaar lees voor ek hierdie begin)

Klutskloon – Hein Swart

Horrelpoot – Eben Venter

Nasleep – Carel van der Merwe

Wonders van Afrika – Dawid van Lill

The Kite-Runner – Khaled Hosseini

En nog ‘n hele mengelmoes van Afrikaans en Engelse skrywers deurmekaar. Dalene Matthee, Ken Follett, Michael Ondaatje, Andre P Brink, Alan Paton, JRR Tolkien, Paulo Coelho en te veel om nog hier neer te pen.

Oor my musieke sal ek maar op ‘n volgende geleentheid moet skryf, anders sit ek vannag nog tot ounag hier.

So, word ‘n man nou ook geken aan sy leesgewoontes? En wat lees julle?

Oestyd is woestyd Oktober 26, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
21 comments

harvest.jpg

Soms gaan dit maar rof tydens die oes- en parstyd. En dan kom daar ‘n paar goeie sêgoed vorendag. Hier is ‘n paar wat ek al deur die jare op die lyf geloop het:

“Klap my agter my kop sodat my oë net uit hulle kasse kan spring en ek kan sien.” – ‘n moeë kelderbestuurder wat twee nagte nie geslaap het nie, toe iets vir hom op papier gewys word.

“Ek het nog net drie tenke in die kelder oor: die watertenk, die kompressor se druktenk en die bakkie se dieseltenk wat ek vergeet het om vol te maak.” – ‘n benoude kelderbestuurder met ‘n BAIE vol kelder.

“Hierdie kelder is nou so vol dat hy opgooi!” – ‘n kelderbestuurder met ‘n vol kelder, toe ‘n tenk oorloop.

“Ons kan nou Kakamas se wyne as Wes-Kaap sertifiseer.” – nadat Kakamas, gedurende oestyd, ‘n paar dae na mekaar herhaaldelik kragonderbrekings gehad het.

“Die bakkie is afgeskryf, maar die kajuit is nou groter en goed gerond van binne af!” – nadat een van ons meer gewigtige wynmakers in ‘n ongeluk was en bietjie binne in die bakkie rondgeval het. (Ons was egter almal baie dankbaar dat hy nie ernstig beseer is nie.)

En toe het ek ook gearriveer Oktober 25, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
17 comments

Lank gewik, lank geweeg. Om deel te raak van die nuwe eeu – die eeu van gesels sonder gesig, gesels wat uit my vingerpunte uit vloei. So stuur ek nou ook my siel, my persoonlikheid, my EK (of dalk my ANDER ek – wie sal weet?) deur my vingerpunte na buite. Raak my vingerpunt aan joune? Sal ons dalk later ons vingers ineenstrengel? Wie sal weet en sal dié wat weet ooit oorvertel?

‘n Gedig (van Stef Bos) om die opening van hierdie wynkelder te vier:

Mens moet van twee kante kom

om mekaar te ontmoet.

Jy moet eintlik toevallig onderweg wees,

jy moet geen doel voor oë hê

en jy moet laat gebeur

waarvoor jy bang is.

Jy moenie alles wil verklaar nie,

voor jy jou kom kry het jy

en die ander oorlog verklaar.

Mens moet van twee kante kom

om mekaar te ontmoet.

Jy moet jouself in die ander durf sien

sonder om in die ander te verdwyn …

dit kan opeens

sommer voor jou staan en lyk na iets

waarvan jy liefs wil vlug.

Dit is die aardige van geluk –

jy maak dit waar

of jy maak dit stukkend,

dit kan jou bedrieg

dit kan jou behoed,

maar mens moet van twee kante kom

om mekaar te ontmoet.

Daarmee verklaar ek hierdie kelder geopen – kom proe my wyn!