jump to navigation

Rosé Desember 14, 2007

Posted by unobastardo in Wynfeite en gesels.
trackback

Bertus het my gevra om bietjie oor rosé te skryf en ek het toe bietjie gaan oplees, want ek is nie self ‘n kenner of maker van Rosé wyn nie. Ek het egter self ook ‘n voorliefde vir hierdie miskende wyne, in plaas van die meer snobistiese rooiwyne.

Rose Wine

Rosé is ‘n pienkerige kleur wyn. Die wyn se kleur kan eintlik strek van ‘n bleek oranje tot ‘n helder amper-pers, afhangende van watter soort druiwe en watter wynmaak tegniek gebruik is.

Onlangs is daar groot makietie gehou toe een van Suid-Afrika se mees herkenbare wyne – Lanzerac Rosé – teruggekeer het. Die handelsmerk het eers aan die Stellenbosch Boerewynmakery (nou Distell) behoort, maar is nou die eiendom van Lanzerac eienaar, Christo Wiese en sy seun, Jacob.

Dié ou bekende word hoofsaaklik gemaak van Pinotage (85%) en word Lanzerac Pinotage Rosé genoem. Dis heel toepaslik, want die wêreld se eerste Pinotage was die Lanzerac Pinotage 1959.

Met die Lanzerac Rosé word daar beoog om die gemiddelde Suid-Afrikaanse verbruiker die potensiaal van ‘n klassieke Rosé te laat ontdek. Meeste Rosé wyne is semi-soet of effe-droog. Lanzerac Rosé is ‘n lewendige rosé wyn, in die oorspronklike Vin Rose-vorm bottel.

Lanzerac se wynmaker, Wynand Lategan, beskryf dit so: “Hierdie wyn is in die klassieke styl vir Rosé gemaak, vars en skoon met ‘n talmende nasmaak. Die tanniene gee genoeg klemlengte aan die wyn om dit saam met kos te geniet. Die Pinotage-druiwe skep geure van vroeë somervrugte soos soet aarbeie, youngbessies en sweempies van rooibosbessies. Vyftien persent van die wyn bestaan uit Cabernet Franc, wat ‘n bietjie speserye byvoeg en ‘n droë nasmaak skep.

Dit het groot potensiaal in die winkel- en restaurantmarkte, veral as ‘n aptytwekker in die somer en saam met ligte middagetes soos vis, vrugteslaai, kreef, pasta en soet patat. Ons wou met hierdie wyn ‘n stelling maak en dit kan gesien word as ‘n voorloper vir die meer ernstige styl van Rosé wyne.”

Die Pinotage en Cabernet Franc druiwe van die Lanzerac wingerde waarvan die Rosé gemaak is, is met die hand sorteer en ontstingel voor dit deur die pulpverkoeler gepomp is. Hierdie Rosé is op dieselfde basis as tenkgegiste witwyn gemaak. Die sap was net vir agt ure in kontak met die rooi druiwe doppe, om die “pienk” kleur te verkry.

Daar is drie hoofmaniere om rosé wyn te maak.

Die eerste is wanneer rosé die hoofproduk is. Rooi druiwe word fyn gepers en die doppe word vir ‘n kort tydjie, nie meer as twee tot drie dae, in die sap gelos. Die druiwe word dan gepars en die doppe word weggegooi. Dit word nie, soos met die maak van rooiwyn, gelos om saam met die sap te gis nie. Omdat die doppe die meeste van die sterk gegeurde looisuur (tannien) en ander komponente bevat, laat dit die rosé wyn meer soos wit wyn proe. Hoe langer die doppe in kontak gelaat word met die sap, hoe meer intens is die kleur van die eindproduk van die spesifieke rosé.

Die tweede proses word saignée of bloeding genoem. Dit gebeur wanneer die wynmaker meer tannien en kleur aan ‘n rooiwyn wil gee. Dus verwyder hy van die pienk sap uit die mos op ‘n vroeë stadium – dit word ‘bloei van die vate’ genoem. Die verwyderde pienk sap word dan apart gefermenteer, wat ‘n rosé as byproduk van die rooiwyn produseer. Die rooiwyn is ‘n baie intenser kleur as gevolg van die bloeding, omdat die volume sap in die mos baie minder is. Die mos wat dus betrokke is by die wynmaakproses, is baie meer gekonsentreerd.

Die derde proses is bloot vermenging, waar rooiwyn eenvoudig by witwyn gevoeg word vir die kleur. Hierdie proses is onaanvaarbaar in meeste wynproduserende streke, behalwe Champagne. Daar is egter selfs in Champagne produsente wat glad nie hierdie proses gebruik nie.

Histories was rosé ‘n delikate, droë wyn, gesertifiseer deur Anjou rosé uit die Loire. Die oorspronklike claret (rooi wyn) was ‘n blekerige wyn van Bordeaux wat heelwaarskynlik vandag beskryf sou word as rosé.

Na die Tweede Wêreldoorlog was dit mode om mediumsoet rosé wyne vir massaverbruik te produseer. ‘n Klassieke voorbeeld is die Mateus Rosé en Amerikaanse “blush” (wat ligrooi beteken) wyne.

Die pendulum swaai nou terug na droër, meer ‘stylvolle’ rosé wyne. Hierdie wyne word gemaak van Rhône druiwe, soos Syrah, in warmer streke, soos Australië. En dan nou ons stylvolle nuwe, ou Lanzerac Rosé!

Advertisements

Kommentare»

1. platterfuss - Desember 14, 2007

Eish. Ek sien jy het darem tyd hiervoor in jou besige skedule!

Dis nice van jou.

Well done!

2. boerinballingskap - Desember 15, 2007

Baie interessant! Dankie! Ek hou baie van droe rose – veral iets soos wat Vrede en Lust maak. De Meye se Blanc de Noir is ook baie lekker vir my. Net ‘n vragie: Word Rose nie ook soms van wit kultivars gemaak, waarby rooi doppe gevoeg word nie? Blanc de Noir is natuurlik ook die ander naam (“Wit van Swart”). Ek het dit altyd so gehad dat wynmakers verkies om ‘n wyn Blanc de Noir te noem om dit te onderskei van Rose’s wat OF van wit kultivars gemaak is, OF van die vermenging van wit en rooi. Is dit inderdaad so?

3. Bertus! - Desember 15, 2007

Halleluja!!!!

Hoe weet mens hoe ‘n bottel rose gaan proe as jy dit in die winkel kry? Partykeer proe rose verskriklik soet, ander kere glad nie. Ek hou van die droeer tipe.

Rose gaan natuurlik wonderlik saam met koek – 4 uur in die middag – op die stoep – terwyl jy Trivial Pursuit speel.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: