jump to navigation

Jou eie wynkelder November 14, 2007

Posted by unobastardo in Wynfeite en gesels.
trackback

‘n Eie wynkelder is maar elke wynliefhebber en versamelaar se droom. Wyn is en bly ‘n natuurproduk, ‘n produk wat lewe en dus deur die omgewing beïnvloed word.

wynrak.jpg

Om jou eie wynkelder te hê, het ‘n paar voordele:

Jy kan jou eie wyn met die ouderdom laat verbeter. Swaarder rooiwyn, houtverouderde witwyn en gefortifiseerde wyn verouder goed, mits dit van goeie gehalte is. ‘n Swak wyn word nooit beter met veroudering nie.

Jy kan jong wyne wat goed sal verouder teen ‘n billike prys koop.

Daar is ‘n paar vereistes vir die inrig van ‘n eie kelder. Jy moet die hoeveelheid wyn wat jy wil verouder in ag neem. Dit sal die grootte van jou wynkelder bepaal. ‘n Spasie van 2.5m x 3m,  met ‘n plafon 2.5m hoog is genoeg om ongeveer 2 250 bottels te bêre. As jou spasie beperk is, sal jy ongelukkig maar tevrede moet wees met minder bottels.

Daar is twee tipe kelders. ‘n Aktiewe kelder is een wat verkoel word en ‘n passiewe kelder is sonder enige ekstra verkoeling. ‘n Ideale passiewe kelder behou ‘n konstante temperatuur en humiditeit. Die temperatuur moenie meer as 6 grade wissel deur die hele jaar nie. So ‘n kelder is gewoonlik ondergronds en omring deur twee tot drie ‘aardmure’. Al wat jy hoef te doen, is om rakke in te sit en jy het ‘n kitskelder!

‘n Aktiewe kelder is gewoonlik bogronds en dus deel van jou huis. Bogronds is natuurlik warmer en die temperatuur bly nie konstant nie. Jy sal dus die kelder moet verkoel en isoleer en moontlik ook die humiditeit moet beheer.

Jy hoef nie ‘n reuse kelder te laat bou nie. As jou min ruimte het, kan jy daardie kas of area  onder die trap of ‘n goed-geïsoleerde garage inrig.

‘n Paar belangrike punte om in gedagte te hou met die inrig van jou kelder:

  • 1. Die wynbottels moet op hul sye lê sodat die kurkproppe nat bly en lug dit nie kan binnedring en die wyn laat oksideer nie.
  • 2. Vir jou rakke, kies ‘n houtsoort wat nie gou sal verweer of muf nie, soos rooihout, mahonie, rooi eikehout of denne. Jy kan selfs vlekvrye staal-rakke ook kies.
  • 3. Stoor die bottels met hul etikette na bo sodat jy kan sien wanneer sediment aan die teenoorgestelde kant vorm en die wyn dalk gereed is vir drink. Gefortifiseerde wyn kan regop staan. Onthou om ook groter rakke in te rig vir magnum-grootte bottels.
  • 4. Die mure en vloeroppervlak moet sover moontlik waterdig wees. Verf die buitenste mure en dak van die kelder wit om hitte-absorbering van buite af te verminder. Dit sal die temperatuur binne-in die kelder laag hou. Verf die binne-mure swart om uitstraling van hitte minder te maak. Die deur moet ordentlik kan seël. ‘n Dubbele deur is beter. Só maak jy seker van konstante temperatuur en dat jy nie te veel lug of lig inlaat nie.

Die ideale temperatuur vir die berging van witwyn is ongeveer 12 grade en vir rooiwyn tussen 16 en 18 grade Celsius. ‘n Temperatuur onder 10 grade sal jou wyn baie stadiger laat verouder. Wyne wat weer te warm kry, verouder te vinnig en sal dus nie so kompleks wees nie. Te veel warmte, soos direkte sonlig, sal die wyn verkleur en kan die wyn selfs laat “af” gaan. Wyn moet ook nie te koud kry nie. ‘n Vrieskas sal beslis skade aanrig. Afsaksels kan in die wyn vorm.

Meer belangrik, is dat die temperatuur relatief konstant moet bly. Skielike stygings of dalings in die temperatuur sal beslis die wyn se gehalte meer beїnvloed as ‘n minder ideale temperatuur wat egter konstant bly. ‘n Paar grade tussen bv. somer en winter doen dus minder skade as ‘n skielike daling van tien grade. Die vloeistof in die bottel sit dan effens uit en “krimp” weer. Dit kan die kurk só beskadig dat dit minder dig seël en lug kan dit binnedring. Dit is fataal. Wees veral versigtig vir ouer wyne waarvan die kurke dalk al brosser is.

As daar ‘n taaierige vloeistof om die bottel se bek en boonste deel van die nek vorm, kan jy maar weet die temperatuur wissel te veel.

As jy nie ‘n groot versameling wyn het nie, kan jy ‘n losstaande wyneenheid met sy eie temperatuurbeheer in plaas van ‘n wynkelder aanskaf. Só ‘n eenheid kan ‘n hele paar bottels wyn hou. Sommige lyk soos ‘n houtkabinet, ander weer soos ‘n mooi yskas.

Die humiditeit van jou kelder is belangrik en moet verkieslik tussen 50% en 80% wees, maar 70% is ideaal. Dit keer dat die wynproppe krimp of uitdroog en dat lug die proppe binnedring.

Wyne met beskadigde etikette verloor hul identiteit en verkoopswaarde. Jy kan etikette met kleefplastiek bedek om hulle te beskerm.

Vermy direkte sonlig of skerp lig. Direkte sonlig sal die wyn beskadig. Dis waarom wynmakers dikwels donker bottels gebruik.

As jy ‘n area moet inrig waar die lig effens te skerp is, kan jy ‘n gordyn voor jou wynrakke hang of selfs jou rakke met lakens of komberse bedek.

Vermy ook harde geraas en vibrasies sover moontlik. Dit kan die normale vorming van sediment in rooiwyn beÏnvloed. Moet byvoorbeeld nie jou wyn naby ‘n wasmasjien of raserige yskas bêre nie.

Probeer om nie bottels wat “rus” rond te skuif nie. Plaas jou wyn so dat jy nie ‘n hele rak moet uitpak om by ‘n spesifieke bottel uit te kom nie.

Moenie jou wyn naby sterk geure soos knoffel of uie hou nie. Dié geure kan die kurk binnedring en die wynsmaak beÏnvloed. Moet ook nie vrugte of kos wat insekte kan lok naby jou wyn hou nie. Insekte kan die proppe beskadig.

*As jy glad nie plek het om ‘n wynrak of wynkelder in te rig nie, kan jy wyn laat stoor. Die Bergkelder Vinotíque op Stellenbosch is die ideale verouderingsplek. Jy betaal ‘n minimale jaarlikse fooi (sowat R30) en jou wyn word onder die ideale omstandighede geberg. Jy ontvang ook deurgaans verouderingsverslae. Skakel (021) 809-8280 of besoek http://www.vinoteque.co.za/.

Bykomende bronne

www.organizes-it.com/winetips.php
www.intowine.com/cellar.html
www.stratsplace.com/rogov/art_build_cellar.html
http://http:/wineracks.vigilantinc.com/wine-ideal-conditions.asp
http://www.wineracksamerica.com/

Advertisements

Kommentare»

1. Dellie - November 14, 2007

Sjoe, maar wyn is ‘n ander wêreld, né. Baie leersaam, dankie, van hierdie onderwerp weet ek nie veel nie. Ek gaan dit sommer uitprint vir Liefie.

2. boerinballingskap - November 14, 2007

Uno, dis ‘n baie behulpsame inskrywing. Ek het vir baie jare my eie kelder gehad, met die beginsel van “vul op” soos ek drink. Maar helaas…ek het baie vinniger gedrink as wat ek kon “opvul’. Nou het ek net ‘n paar kosbare bottels oor. Nou’s die vraag: Drink ek te veel wyn of is ek net te arm om ‘n kelder te onderhou?

3. Dellie - November 14, 2007

Bib, ek dink nie mens kan te veel wyn drink nie! 😆 Baie van ons se downfall…

4. boerinballingskap - November 14, 2007

Dellie… 🙂
Ek het ‘n ou vriend wat altyd se: Hy drink so baie rooiwyn dat sy hart nou SO gesond is, dat hy moet rook, net om die hart weer in balans te bring!

5. sonkind - November 14, 2007

Bastardo, het jy ‘n bogrondse of ‘n ondergrondse kelder? Ek dink so ‘n kelder onder die grond kan nogal ‘n lekker plek wees! 😈

6. idiwidi - November 15, 2007

Baie oulike inskrywing. Maar vertel ons ook meer van JOU kelder.

7. René - November 16, 2007

Ek weet NIKS van wynmaak af nie – maar ek weet hoe hy smaak en het ‘n geweldige bewondering vir iemand wat actually wyn KEN!! Tussen my en manlief hou ‘n bottel wyn nie baie lank nie – ons het ook die ondergrondse wynkelder ding probeer, maar het dieselfde probleem as Boertjie gehad! Voor ons nog die bottel in die kelder kon gaan stoor, het sy kurkie gevlieg!!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: