jump to navigation

Slanghoek Vallei November 6, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
trackback

slanghoek.jpg 

Alhoewel ek ‘n boorling van die Boland is, is ek nie een van die gebore Slanghoek inwoners nie. Dit is geslagte en geslagte wat hierdie vallei bewoon. Vir hulle is die vallei hulle trots, hulle brood en botter, hulle lewe. Ek het maar net, soos die ou mense gesê het, met my spreekwoordelike agterent in die botter geval.

Maar ek wil graag vertel van hierdie vallei wat diep, diep onder my vel ingekruip  het. En van die omgewing rondom die vallei – Worcester en Rawsonville. En aan die einde van hierdie reistog – die beloofde verhaal agter die naam van die vallei – Slanghoek.

Die naaste groot dorp is Worcester. Worcester is 120 km noord-oos van Kaapstad geleë, in die Breërivier vallei. Worcester het in 1820 ontstaan na die samesmelting van twee plase, Roodewal en Langerug.

 worcester.jpg

Gedurende die 18de eeu was daar ‘n paar verspreide plase en nedersettings in die vallei. Meeste van die grond is gebruik vir weiding en het so te sê onbewerk gebly tot vroeg in die 19de eeu. Goewerneur Lord Charles Somerset het die setel van die landdros van Tulbagh af verskuif na Worcester, wat vernoem is na sy broer, die Markies van Worcester.

Wingerde is aangeplant en teen die 1860’s het die oeste goed vergelyk met dié van Stellenbosch en Paarlvallei. Meeste van die oes is gedroog vir rosyne, maar na die Tweede Wêreldoorlog het die vraag na rosyne afgeneem en meeste van die boere het begin om wyndruiwe aan te plant.

Dit was so suksesvol dat die vallei vandag die grootste wynproduserende streek in Suid-Afrika is. Worcester kry sy meeste reën in die winter, ongeveer 175 mm per jaar. Alhoewel die Breëriviervallei self tussen 500 en 1000 mm reën per jaar kry, bly die dorp Worcester maar oor die algemeen droog.

Worcester is grotendeels ‘n boeregemeenskap. Die KWV Brandewyn Distilleerders is ook hier, die grootste van sy soort in die wêreld. Tot baie onlangs het die ekonomie ietwat stagneer, maar onlangs is die nuwe Mountain Mill winkelkompleks en ‘n nuwe casino hier oopgemaak. Dit beloof ‘n inspuiting aan die ekonomie van die dorp.

Worcester is natuurlik ook baie bekend vir die De La bat skool vir dowes en die Pionier skool vir blindes.

Die skrywer J.M Coetzee het as kind in Worcester gebly en beskryf dit in sy boek ‘Boyhood’. Ook David Kramer, die bekende sanger, kom van Worcester. C. Louis Leipoldt is in 1880 in Worcester gebore.

Rawsonville is ‘n klein wynverbouing en boerdery gemeenskap in die Breëriviervallei. Die jaarlikse Breedekloof Buitelugfees word ook hier gehou. Die dorpie se ekonomie is grotendeels afhanklik van die omliggende plase, maar toeriste wat al hoe meer naweke hierheen uitwyk, dra ook ‘n groot deel tot die dorp se inkomste by. Rawsonville is 90 km van Kaapstad en 15 km wes van Worcester.

rawsonville1.jpg

Rawsonville is geleë in ‘n pragtige deel van die vallei, aan die oostelike kant van die Du Toitskloof berge.

Die grootste konsentrasie wynplase is in die Slanghoekvallei en Rawsonville areas, teen die Slanghoek, Du Toitskloof, Waboomberg en Riviersonderend bergreekse.

In die Slanghoekvallei bestaan die grond uit sanderige leem, met ‘n variasie van los klippies en ‘n redelike hoë water inhoud. As gevolg hiervan moet die grond gedreineer word ter voorbereiding vir die wingerd. Daar is ook ryk alluviale grond op die rivier oewers. Dit alles beteken dat verskeie wingerdsoorte hier verbou kan word.

Hoe die Slanghoek Vallei aan sy naam gekom het.

Vreemd genoeg is die verhaal agter die naam van die Slanghoek Vallei nog nooit geboekstaaf nie. Dit is maar net so van geslag tot geslag mondelings oorgedra. My dank aan Pieter Carstens, wynmaker van Slanghoek Wynkelders wat hierdie verhaal vertel het en ek skryf dit dan nou hier neer vir die annale van die kuberruim.

Die plase wat aan die Franse Hugenote toegeken is, was aan die Paarl se kant van die Du Toitskloof berge. Hulle het hoofsaaklik met vee geboer en in die somermaande was daar te min weiding vir al die vee, aangesien dit droog is in die somer. Die vee, met hulle veewagters, is dan oor die berg gestuur om weiding te gaan soek.

Hulle het nie die tradisionele roete oor Du Toitskloof gevolg, soos ons dit vandag ken nie. Hulle het ‘n kortpad oor die berg gehad, oor die Spring Stiebeuel.

In die een hoek van die vallei, was daar ‘n moerasagtige deel. Omdat die vallei so omring is met die berge, was daar nie ‘n natuurlike uitloop vir reënwater nie – dit is deur die omringende berge gestop. Die vallei self het dan ook een van die hoogste reënvalsyfers in die land, 1500 tot 1700mm per jaar.

Oos lê die Badsberge en wes lê die Du Toitskloofberge. Dit het ook ‘n wye verskeidenheid fynbos, waarvan omtrent 7 soorte bedreigde spesies fynbos is. Slanghoek se fynbos heet die aluvium fynbos.

breedevalley.jpg

In die hoek van die vallei, in die moerasagtige water, was geweldig baie palings en die veewagters het dit Slanghoek gedoop. So dit is as gevolg van palings, en nie regte slange nie, wat die vallei die naam Slanghoek gekry het.

Vandag is daar ongeveer 15 plase in die vallei. Met die koms van die boere na die vallei toe, is die grond beter dreineer, die moeras het verdwyn en die palings het uitgesterf.

Ander oorlewering vertel ook dat die vallei vernoem is na die kronkelende bergreekse, wat soos ‘n slang lyk uit die lug uit.

bergreeks.jpg

Dan is daar ook nog die legende oor hoe Slanghoek sy naam gekry het. Veewagters het geglo by een van die natuurlike poele woon ‘n slang met ‘n edelgesteente in sy mond. Wanneer die slang gaan bad, haal hy die steen uit sy mond uit en los dit langs die poel. Vir ewige geluk moes mens net aan die steen gaan raak.

As mens egter selfsugtig sou wees en die steen steel, sou die slang sy stert in sy mond vasbyt en agter jou aanrol, soos ‘n wawiel en jou so volg, waar jy ook al gaan. Die enigste manier om dan ontslae te raak van die slang, sou wees om die steen onder ‘n hoop koeimis weg te steek. Die slang kon jou dan nie meer volg nie, maar die slang sou ook nie die steen kon kry nie en sou dan doodgaan van die hartseer.

En dit is die storie van die Slanghoek Vallei.

plaaswerkers.jpg

Advertisements

Kommentare»

1. René - November 7, 2007

Trossie, hierdie is nou ‘n baie interessante stukkie geskiedenis waarvan ek nooit geweet het nie. Ek is op Ceres gebore en het 18 jaar daar gebly, na skool vir ‘n jaar by die destydse Worcester Kollege gestudeer (nou Boland Kollege). Buiten vir Ceres is Slanghoek my gunsteling besoekplek in die Vallei! Rawsonville is ook asemrowend mooi, maar ek is nie lief vir Worcester nie – daai wind sal my klaar maak! Ek kan egter nie by die Nuy-valei se Muskadel verby ry nie! Ek moet bieg, ek het nog nie Slanghoek wyne probeer nie – dit was my volgende mission wees as ek in die omgewing is!

2. duskant - November 7, 2007

Dis nou ‘n lekker inskrywing, maggies.
Ek is totaal en al gek oor roadtrip en oor geskiedenis en hierdie het my nou ver paaie laat ry (in my kop…suggg). My Vaalrivier-lojaliteit opsy, ek wonder patykeer of ons Gautengers besef wat ons mis deur nie regtig die Kaap en sy omstreke te ken en te kan beleef nie.
Baie dankie vir ‘n lekker stukkie lees.

(Darem loop my bloed ook uit die berge van die Kaap, my ma is ‘n de Villiers en hulle familie-mense was van die baie wynboere in die Boland).

3. Dellie - November 7, 2007

Dit was ‘n baie lekker kuiertjie, dankie! En die foto’s is pragtig! Dis so plat hier by ons in Welkom, dat ons berge vreeeeslik waardeer as ons dit sien.

4. boerinballingskap - November 7, 2007

Uno, wat ‘n wonderlike interessante inskrywing saam met die pragtige foto’s. Ek het dit nou regtig geniet om dit te lees – veral die legendes oor hoe die vallei sy naam gekry het. Pragtige wereld daardie! Ek verlang sommer nou erg uit die vreemde…

5. sonkind - November 7, 2007

Uitstekende post! Slanghoek se wyn is njammies lekker. Ons gaan elke jaar vir ‘n week Goudini Spa toe en dan kuier ons een dag net so proe proe tussen die kelders rond. Daai aand moet ons doekvoet rondawel toe sleep en nie warm swembad toe gaan nie, want glo my, te veel wyn en warm water swem gaan NIE hand aan hand nie! 😈

6. Tigerlily - November 7, 2007

Ai, ek wens ek was nou daar! Hoekom verlang ek na die Kaap as ek nog nooit daar gebly het nie?

7. KruidjieRoerMyNie - November 8, 2007

Dankie Uno. Dit was baie interessant. Ek is ook geweldig geintereseerd in Geskiedenis so het dit baie geniet. Het so maand terug die Worcester fiets kompetisie gaan doen en ook baie plase in die omgewing besoek. Dis ongelooflik mooi daar en ons was gelukkig wat die weer betref. Nie ‘n windjie in sig nie.

8. platterfuss - November 8, 2007

Die fotos……. ongefrokkenlooflik!!!!! En jou entry…. brilliant! Mens is nooit te oud om te leer nie nê??

Nou MOET ek iets sê…. jou comment gister op ding se blog…. jy het my hartseer gehad…… Jy’s ‘n ‘mens’… en dit sê ek nie sommer vir enige een nie…..

9. unobastardo - November 8, 2007

Dankie, almal van julle – dis altyd maklik om oor iets te skryf wat mens regtig na aan die hart lê.

Platt – baie dankie vir jou mooi woorde. ‘n Mens word maar mens deur die lesse wat jy leer in die lewe.

10. feetjieland - November 8, 2007

Hoe laat jy my nou na die Kaap verlang! Die foto’s voer my weg..

11. Basil - November 8, 2007

Uno, kyk ou broer, as ek dan nou die dinge soos ‘n kat uit ‘n boom hier bekyk, sou ek sê daai wingerd van jou daar in daai mooie vallei gaan vir jou nog baie plesier bring, dan sien en praat ek mos nou waar, of hoe? LOL!!!

12. Karin - November 9, 2007

Pragtig.

Ek verstom my steeds aan alles om my hier in die Kaap. Daar kan nie mooier wees nie. Jou wêreld is voorwaar een van die asemrowendste van die Wes-Kaap.

Ek is reeds sedert April in die Kaap en kan my nie ‘n mooier plek op die aarde voorstel nie. Ek voel elke dag soos ‘n toeris.

Ons is bevoorreg om hier te mag woon in ons kort tydjie op aarde.
K ‘-)

13. idiwidi - November 10, 2007

Wat ‘n mooi inskrywing! Die storie oor Slanghoek se naam is baie oulik.

14. ding - November 11, 2007

Trossie, diep dankie vir die leen van jou oë vir ons om jou tuiste te ervaar soos jy dit ervaar. Ding is werklik beïndruk met jou moeite en styl – hierdie is gehalte leesmateriaal.

Ding hou natuurlik die meeste van die veewagters se weergawe van waar die naam vandaan kom. En ja, ding kan sonder twyfel voorspel dat, sou Stoutsus op hierdie afkom, is Wikkel weer getaak met nog ‘n nuwe slaaptydstorie – daai veewagterstorie klink kompleet soos die fabels wat Wikkel tot vervelens vir Stoutsus moet vertel… hehe

Dankie, Trossie – netjies, Mater, netjies.

15. Tigerlily - Desember 15, 2008

Het eers weer hier kom lees na die Slanghoek Merlot van nou die aand.
Jy is bevoorreg om in sulke weelde te leef, Uno.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: