jump to navigation

Word jy geken aan jou boeke? November 3, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
trackback

‘n Mens word geken aan jou vriende. Word ‘n mens ook geken aan die musiek waarna jy luister en die boeke wat jy lees?

DING vra my watter boeke ek lees en dit laat my toe met nuwe oë na my boekversameling en sommer musiek ook kyk.

Op die tafeltjie langs my stoel in die leefkamer, lê die volgende:

Taalgenoot; Huisgenoot (ja, ek bieg – ek lees dit!); die laaste uitgawe van Insig; kakkerlak en die nuwe Boeke-Insig. Elkeen is plek-plek gelees en sal van hier af seker verskuif na die hopie in die een hoek van die studeerkamer. O ja, en vandag se Burger – dié lees ek van hoek tot kant. Ek lees net Saterdae die koerant en vang dan maar so op met die week se nuus. Die res van die week kyk ek maar die nuus, vir wat dit werd is.

Hier lê ook ‘Kopkrap vir ‘n jaar – 365 kriptiese en gewone blokkiesraaisels’. So elke nou en dan doen ek een – ek glo dis goed om die breinselle so bietjie te toets.

Op die oomblik lees ek verwoed aan The Innocent Man deur John Grisham. Dis die ware verhaal van Ronald Williamson wat verkeerdelik skuldig bevind en tronk toe gestuur is en hoe hy sy onskuld bewys het. Dis ‘n aangrypende storie en ek wil dit skaars neersit. Grisham is dan ook een van die skrywers wie se boeke ek altyd koop en lees.

Op die rakkie onder die koffietafel lê Dances with Devils van Jacques Pauw. Ek lees moeilik hieraan – dis ‘n ‘skop-in-die-maag’ boek.

Langs my bed is die heel nuutste vertaling van die Bybel en dan die vertaalde Afrikaanse dagstukkies van Angus Buchan, wat ook Faith like Potatoes geskryf het. En 32 Battalion deur Piet Nortje. Hierdie boek sny diep in my are in, dis my persoonlike reis en ek wil nie veel meer daaroor hier skryf nie.

Op my lessenaar in my studeerkamer lê die volgende twee nuwe boeke, wat ook net wag vir ‘n leeskans. 1408 van Stephen King en Asbesmiddag deur Etienne van Heerden. Wyd uiteenlopend, maar altwee is skrywers wat ek nie sommer miskyk in ‘n boekwinkel nie.

En in my boekrak, op die boonste rak, sommer so met die eerste oogopslag, sien ek:

White Thorn – Bryce Courtenay (ek lees ook al sy boeke, het feitlik die hele versameling)

The Secret – Rhonda Byrne (moet hierdie nog lees)

The Dark River – John Twelve Hawks (moet nog eers The Traveller klaar lees voor ek hierdie begin)

Klutskloon – Hein Swart

Horrelpoot – Eben Venter

Nasleep – Carel van der Merwe

Wonders van Afrika – Dawid van Lill

The Kite-Runner – Khaled Hosseini

En nog ‘n hele mengelmoes van Afrikaans en Engelse skrywers deurmekaar. Dalene Matthee, Ken Follett, Michael Ondaatje, Andre P Brink, Alan Paton, JRR Tolkien, Paulo Coelho en te veel om nog hier neer te pen.

Oor my musieke sal ek maar op ‘n volgende geleentheid moet skryf, anders sit ek vannag nog tot ounag hier.

So, word ‘n man nou ook geken aan sy leesgewoontes? En wat lees julle?

Advertisements

Kommentare»

1. ding - November 3, 2007

Hmmm… Trossie, netjiese versameling. Nodeloos om te meld dat ding van die helfte van die skrywers en/of boeke se bestaan nog nooit kennis geneem het nie; dat ding van die ander helfte se helfte nog net vluggies verneem het; en van die helfte van die ander kwart miskien ‘n kwart al self onder oë geneem het. Want van lees en boeke weet ding mos nog minder as van wyn, sien jy.

Ding het lank terug ‘n vriendin gevra om eendag ding se musiekversameling te kom haal wanneer ding nou langboompies toe kis. Maar ding het duidelike instruksie gegee ook dat ding se boeke tog maar saam met ding ingepak word, want ding sal dalk dan kans kry vir stilsit en lees. Wat ding nie gelees kry terwyl ding ry nie, lees ding nie terwyl ding asemhaal nie (die dat ding nie kinders het nie – hulle sou soos ding so dom soos grond gewees het van nie lees nie!)

Ja, ding reken nogal ons wil graag glo dat ons musiek- en leesgewoontes nogal iets van onsself vertel. Nie dat dit noodwendig doen nie, dis manupileerbaar, soos die meeste ander goete waaraan ons graag waarde heg. Of wat dink jy?

2. sonkind - November 3, 2007

Impressive! Moet se, jy lees bietjie hoog vir ons gewone sterflinge.

Grisham en Courtenay is darem ook bekendes in hierdie huis. En Andre P Brink. Hoe kan mens dan nou NIE vir Brink lees nie? Dan is daar ‘n ernstige gaping in jou opvoeding 🙂

3. Tigerlily - November 3, 2007

Ek dink nog altyd dat die boeke wat mens lees, boekdele (hehe) spreek oor wat in jou kop aangaan.
Tydskrifte veral gee ‘n goeie indikasie van jou belangstelligs in die huidige fase van jou lewe.
Boeke is vir my meer die dinge wat jy na soek in die lewe. Jou navorsing oor die wêreld…
Ek lees selde storieboeke. My boeke is meestal oor hoe om goed te maak, hoe om dinge te doen, hoe om jou eie kop te lees, waar om te soek vir jou siel.
Hulle lê orals, almal in verskillende stadiums van gelees wees.
My gunsteling leesplek is in die bad, die dat my boeke duidelik wys wanneer hulle gelees is…
N.S. Ek is heeltemal te pissie vir Stephen King!!!

4. boendoe - November 3, 2007

Ek hou van fiksie, maar my lees het baie afgeneem a.c. (after children). Grisham is ook een van my gunstelinge, so ook Frederick Forsyth en Ken Follet.Juis nou besig om The Afghan van Forsyth so in sarsies te lees.
Ook in my besig-om-te-lees hopie, is The Complete Oom Schalk Lourens Stories van Bosman. Histeries!
Wat ek amper daagliks lees, is Food is Better Medicine than Drugs, van Patrick Holford.
My sentimenteelste besitting is ‘n (seker deel van ‘n) stel kinderboeke wat my oupa s’n was. Geel bladsye, muwwerige reuk, maar die mooiste illustrasies van feetjies en ander fantasiekaraktertjies.
My gunsteling leesplek is ook die bad of die “loo”, want dis die enigste plek waar ek rus en vrede kry!

5. unobastardo - November 4, 2007

Ding, ek wil my verstout deur te sê dat ek jou vir geen oomblik glo oor die “dom soos grond” gedeelte nie. En ja, alles is manupileerbaar, afhangende van wie staan aan die manupileer uitdeelkant en wie staan aan die manupileer ontvangkant.

Vir my is lees meer vir my eie plesier as om punte aan te teken in enigiemand se goeie boeke. Ek lees wyd en dit het ek aan my ma te danke. Ons was skaars deur Sub A, toe sleep sy ons dorpsbiblioteek toe. Sy het alles gelees, selfs die Rice Crispies boks aan die ontbyttafel! 🙂

Son, ek het dan so half ‘n gaping in my opvoeding. Ek het Andre P Brink skelm gelees op universiteit en die man se skrywe doen niks vir my nie. Hy wil-wil al vir my so half pretensieus oorkom. Maar dis nou net my uitkyk.

Tiger – King se boeke is weer vir my een van die lekkerste lekkertes in daardie genre.

6. sonkind - November 4, 2007

Bastardo, I will agree to disagree with you on this one – Andre P Brink. Daai man se skrywery gee my hoendervleis. Klaar. Punt.

7. ding - November 5, 2007

Meer as wat ding ag slaan op die wat, geniet ding dit om die hoe en die hoekom te weet. Ding sal bietjie daar oppie stoep meer gesels oor daai.

8. feetjieland - November 5, 2007

Kry maar deesdae min tyd vir lees, het in my kinderlose dae baie meer gelees as nou…het die afgelope tyd Sylvia Brown se boeke gelees, ek stel baie belang in “mysteries”, alles wat bo-natuurlik is, wat hierna met ons gaan gebeur, reinkarnasie, ander dimensies, “geeste” of spoke ens… En dan natuurlik Afrikaanse liefdesverhale…die ewige hopelose romantikus..

9. platterfuss - November 5, 2007

Ek en jy kan ‘saam’ lees….. amper scary hoeveel van dieselle boeke ons het!!!!!!

Ek het ‘n biblioteek in die kleine by my huis……

En, as jy my rerig binne 60 minute die tydelike met die ewige wil laat verwissel, dwing my om ‘n Mills & Boons of ‘n afrikaanse sopstorie te lees……

Ek het selfs Jacques Pauw se ‘In the heart of the whore’… SCARY STUFF!!!

Patterson… King…. Dean Koontz…. en ‘n ziljoen ander!!!

10. unobastardo - November 6, 2007

As jy ooit in hierdie wêreld kom, dan kan ons vir seker ‘saam’ lees, Platt! Ek deel my boeke graag, maar jy sal hier moet lees, ek leen nie my boeke uit nie 😉

‘n Lekker boek, saam met ‘n lekker glasie wyn, en dan nog goeie geselskap ook so tussendeur – kan nie beter nie!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: