jump to navigation

Kaneel se storie Oktober 27, 2007

Posted by unobastardo in Trivia.
trackback

My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel…

ceylon-cinnamon.jpg

In ‘n goeie Merlot vind jy soms ‘n neus vol kaneel. Wat is kaneel en waar kom dit vandaan?

Dit is Rome, in die jaar 65 nC en die mense sien ‘n dik, donker wolk oor Rome hang, met ‘n soet reuk wat in die lug hang. Is Rome besig om te brand? Nee, dit is net koning Nero wat sy vrou, Poppaea Sabina begrawe. Vir haar begrafnis brand hy ‘n hele jaar se voorraad kaneel op.

Nero het Poppaea verskriklik liefgehad. So lief dat hy selfs sy ma, Agrippina, vermoor het sodat hy met Poppaea kon trou. Maar nou is Poppaea dood en Nero kies om haar te begrawe met kaneel.

En eintlik was dit verskriklik spandabelrig, want in daardie tyd het een pond kaneel 300 denares gekos. En 300 denares was gelyk aan 10 maande se loongeld. Dus was kaneel baie waardevol – ‘n geskenk vir ‘n koning, ‘n offerande vir ‘n gestorwe geliefde.

Al reeds 2000 jaar voor Christus het die Egiptenare kaneel uit China ingevoer. Ook in die Bybel word kaneel genoem. God beveel vir Moses, in Eksodus 30 vers 23, om kaneel en kassie te gebruik om ‘n gewyde salfolie te maak. In Spreuke 7 verse 16-17 maak die minnaar vir sy geliefde ‘n spesiale bed. “Ek het ‘n deken oor my bed gegooi, ‘n deken van bont Egiptiese linne; ek het my bed besprinkel met mirre, aalwyn en kaneel.”

Waar kom kaneel dan vandaan? Herodotus, ‘n klassieke skrywer, vertel ‘n wonderlike verhaal oor die oorsprong van kaneel. Hy het gehoor van groot voëls wat nesmaak in die hoogste bergpieke. Die neste is gemaak van kassie en kaneel. Die neste was te hoog vir mense om tot daar te klim en hulle moes ‘n ander plan maak om by die neste te kom. Die mense los toe groot stukke vleis op die grond naby die neste. Die voëls sou dan afvlieg, die stukke vleis oppik en terugvlieg na hul neste toe. Maar die vleis was te swaar vir die neste. Dit het gebreek, afgeval en die mense kon dan die kassie en kaneel op die grond bymekaarmaak.

Suid-Afrika se verhaal as kolonie loop byna parallel met die stryd om beheer van die kaneel-industrie in Ceylon aan die einde van die vyftiende eeu. Net soos hier, was die Portugese ook eerste daar en in 1518 bou hulle ‘n fort op die eiland. Vir meer as ‘n eeu behou hulle die monopolie.

Maar in 1638 lei die Hollanders se neuse hulle na Ceylon se kaneel en teen 1658 het die Hollanders ontslae geraak van die Portugese. ‘n Hollandse kaptein het glo geskryf: “Die strande van die eilande is vol daarvan en dit is die beste in die Ooste. Wanneer ‘n mens wind-af van die eiland is, kan jy steeds die kaneel ruik – selfs so ver as agt myl die see in.”

Die Hollanders het geëksperimenteer om die beste oesmetodes vir kaneel te kry en het later hulle eie bome gekweek. Maar teen 1796 neem die Britte die beheer van die eiland oor by die Hollanders. Daar was egter nie meer veel sprake van ‘n kaneel-monopolie nie, want kaneelbome is intussen suksesvol aangeplant in ander gebiede en gebruikers het begin om die meer algemene kassie-stam as plaasvervanger vir kaneel te gebruik.

Wat is kaneel nou eintlik? ‘n Stukkie pypkaneel lyk soos ‘n stokkie; ‘n stukkie sjokoladekleurige bas. Beweeg die stokkie voor jou neus verby, dan gee hy sy geheim weg – die onmiskenbare reuk van kaneel.

Kaneel is ‘n spesery wat kom van die binneste bas van ‘n klein immergroen boompie (Cinnamomum verum), inheems aan Sri Lanka en Suid-Indië. Die boompies word 10 tot 15 meter hoog. As die boompies 2 jaar oud is, word hulle afgesny, maar in die jaar daarna groei daar weer omtrent ‘n dosyn lote by die wortels uit. Die bas word van die lote afgestroop en gedroog. Net die binneste dun bas (ongeveer 0.5 mm) word gebruik, die buitenste hout gedeelte word verwyder. Dan bly daar lang kaneelstroke oor wat in rolle opkrul as dit droog word. Dié word dan weer opgesny in 5 tot 10 cm lang stokkies en net so verkoop.

Die beste kaneel in die wêreld kom van Sri Lanka. Dit word egter ook verbou in Tellicherry, Java, die Wes-Indiese Eilande, Brasilië en Egipte. Kaneel van Sri Lanka is fyn, het ‘n dun, gladde bas met ‘n ligte geelbruin kleur, ‘n welriekende geur en ‘n besonderse soet, warm en aromatiese smaak.

Die blare is langwerpig en ovaal, tussen 7 en 18 cm lank, met ‘n groenerige kleur wat blykbaar glad nie te lekker ruik nie. Die geur van die kaneel kom van ‘n aromatiese olie wat minder as 1% van die plant uitmaak. Die bas word rofweg gemoker, in seewater geweek en daarna vinnig gedistilleer om die olie te verkry. Die olie is goudgeel, met die kenmerkende kaneelgeur.

In Suid-Afrika is reëndae gelyk aan pannekoek met kaneel. Melktert sonder kaneel is ondenkbaar. Die Voortrekkers het ook kaneel gebruik om verkoues te genees en ook om diarree te behandel. En as jy volgende keer nie muskietweerder by jou het nie, kan jy maar kaneel gebruik as insekweerder!

Die woord “kaneel” het saam met die Hollanders Kaap toe gekom. Die Engelse woord cinnamon kom van die Griekse woord kinnámomon, en dit herinner ook aan die Hebreeuse woord, qinnâmôn. Die Maleiers en Indonesiërs verwys na kaneel as kayu manis, oftewel soet hout.

Kassie (Cinnamomum aromaticum) is familie van kaneel (Cinnamomum verum) en word eintlik Chinese kaneel genoem. Die gedroogde bas van kassie word ook as ‘n spesery gebruik. By kassie word egter die hele tak en klein boompie geoes vir bas. Die kassie-bas is ‘n baie dikker en growwer tekstuur as regte, egte kaneel. Die kaneel wat in die VSA en Kanada verkoop word, is eintlik kassie. Dit word dan ook  gemerk as “Indonesiese kaneel” om dit te onderskei van ware kaneel. Die Meksikane en Europeërs verkies egter ware kaneel.

Advertisements

Kommentare»

1. Tigerlily - Oktober 27, 2007

Baie interessant. Ek het nooit gedink daar is so baie te sê oor kaneel nie. Mens neem mos maar al die ou dingetjies as vanselfsprekend aan, en besef nie altyd hoe kosbaar jou alledaagse dinge ‘n paar jaar terug was nie!

Iets wat ek oor wonder mbt. wyne…
Het jy al agtergekom of mens verskillende wyne met verskillende persoonlikhede kan assosieer?
Ek is gladnie ‘n wynkenner nie, maar ek wonder waarvolgens mense hulle wyne uitkies?
Ek sal rooiwyn drink agter die name aan! Soos Merlot…mooi.

2. boerinballingskap - Oktober 27, 2007

Hierdie was nou vir baie interessant. Dankie.

3. unobastardo - Oktober 27, 2007

Dankie Boer!

Tiger – ek het eintlik nog nooit so aan jou vraag gedink oor wyn en persoonlikheid nie, maar nou gaan ek bietjie dinkwerk doen.

Ek glo natuurlik dit gaan meer oor smaak vir meeste mense. Kan ek jou ‘n geheimpie vertel? Die wenners op die wynskoue en die duur wyne, wat naam dra, is nie altyd die lekkerste drinkwyne nie, hoor.
🙂

4. sonkind - Oktober 27, 2007

Ek vrek oor melktert, met so dun, fyn lagie kaneel. Nou sal ek altyd aan Nero en sy groot liefde dink as ek kaneel proe!

5. platterfuss - Oktober 27, 2007

Blogging is soos rooi wyn… jy moet die smaak leer ken… en leer liefkry!

En kaneel…. ‘n reuk met mooi herinneringe!

Interessante entry!

6. ding - Oktober 28, 2007

Oor die kenmerke en karaktrekke van die perfekte melktert kan ding liries raak en boeke skryf – het ding maar oor die nodige woordeskat beskik.

Van die ware kultuur van goeie rooiwyn weet ding minder as niks – hopeloos te onafgerond en grof daarvoor. Maar waarin ding hartstogtelik wil glo, is dat die perfekte cabernet sauvignon ‘n suggestie van diep sjokolade en ietsie meer as suggestie van kaneel saam met die kundige versnyding van vele ander sal inhou – ‘n gekompliseerde, komplimenterende vermenging… Hmmm jaaa * diep sug * soos om verlore te raak – jou selfbeheersing te voel wegsypel – in die volkomendheid van ‘n vrou se parfuum.

Tierie, ding weet nie eers altyd hoe om ‘n wynglas met klas en styl vas te hou nie; jy weet: watter tipe wyn se glas is jy veronderstel om fyntjies aan die steel vas te hou en watter mag jy amper omkoepel met die hand sodat die handhitte help om die wyn se smaak te bevorder en so aan, maar ding weet wel – die wyn wat ding maak met nuwe uitsig kyk, is die wyn waarin ding ‘n vrou kan proe…

Dankie vir die vertelling van kaneel, Trossie. Terloops, hoe sê die digter – wie is in anys? En glo of los, ongeveer ‘n week gelede loop ding spesifiek die liedjie en neurie en wonder hardop teenoor ‘n seer gewaardeerde vriendin: wie het die woorde getoonset? En ding ken steeds nie die antwoord op ieder van die twee vrae nie!

7. prontuit - Oktober 28, 2007

Dankie vir dié inligting, maar as ek by die tweede glas is, vergeet ek hievan.

8. Frank Botha - Oktober 28, 2007

Hei.

Aangename kennis. Lekker blog!

Groete,
Frank Botha

9. boendoe - Oktober 28, 2007

Jong, dit was interessant! Sal ek dit push as ek vra of jy weet wat kaneelbome se ideale “growing conditions” is? (“kaneelbome” – klink eienaardig! Het nog altyd gedink dit word deur die ooievaar afgegooi in oranje boksies)

10. unobastardo - Oktober 28, 2007

Wie is in anys? Goeie vraag, ding. Ek sal moet gaan dink. Ek lees jy gaan klipsit as jy diep dink – ek gaan stap deur die wingerd. Dus, ek sal moet gaan wingerd wandel en aan daardie onbekende een in anys ‘n naam en ‘n gesig gee.

En ek wil my amper verbeel ek het iewers gelees Juliana Fullard het hierdie getoonset.

Een ding moet ek jou sê; jy klink nie soos ‘n man wat nie sy wyn ken nie! Ek hou die glasie Cabernet reg vir jou.

11. ding - Oktober 29, 2007

Ag dankie vir die woorde, My Kroon! Neewat, eerlikwaar ook, Trossie, ding het, soos met vroue, ‘n baie spesifieke smaak, opregte waardering en aptyt vir ding se wyn en op sy beste is ding maar ‘n outydse opreggeteelde bliksem, hehe. Ding los maar die ingewikkelde nommers vir die manne soos Trossie – ding het darem al besef julle kerels WEET wat julle doen! Voorreg om te weet van iemand soos jy se bestaan. Ding hou van die uitdrukking: wingerd wandel. Mooi aanvoeling vir die taal.

12. Bertus! - Oktober 29, 2007

Op die meeste plekke in SA word melktert met kaneel gemaak. Die uitsonderings is die Paarl en daai Sewendedag Adventiste wat ‘n stalletjie buite Robertson het. Ek verkies hom self sonder kaneel.

13. feetjieland - Oktober 29, 2007

Baie interessant! Hoe lus is ek nou vir melktert en pannekoek… ek het gister pampoen met suiker en kaneel gemaak…MMmmm
Moenie vergeet van ‘n glasie warm melk met suiker en kaneel nie, net so lekker voor slapenstyd!

14. Dellie - Oktober 29, 2007

Het dit nou baie geniet. Vir my is kaneel die lekkerste in melkkos…

15. Tigerlily - Oktober 29, 2007

Ek loop nie gevaar om skou-wyn raak te drink nie, Bastardo. Solank hy rooi is, is hy reg!

16. Skoorblok - Oktober 29, 2007

Gister my neus in ‘n goiingsak vol kaneel gedruk. In Oom Samie se Winkel.
En toe verlang ek sommer weer die winter!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: