jump to navigation

Flaters of Feite? Oktober 30, 2007

Posted by unobastardo in Trivia.
12 comments

Ek lees baie en gereeld meer as een boek of tydskrif tegelyk. En so elke nou en dan besluit ek dis nou eers weer tyd om my kantoor, my studeerkamer en sommer net die huis in die algemeen van hoek tot kant deur te gaan en my boek en tydskrif hopies uit te sorteer. Die naweek was nou weer een van daardie tye.

Die spreekwoordelike “hulle” sê nie verniet as mens iets wil weet wat niemand anders weet nie, lees dieselfde tydskrifte as almal, maar net een jaar later. Terwyl ek so skoonmaak, hak ek gewoonlik vas by van die ou tydskrifte en lees artikels wat ek die eerste keer gemis het of dalk net weer wil lees, of dalk wil bêre. So word die hele uitsorteer proses later eintlik net ‘n verskuiwing van een hopie na ‘n ander, van een hoek na ‘n ander, want ek gooi baie moeilik ‘n leesding weg.

Met dié kom ek dan ook af op die volgende in ‘n Taalgenoot van 2005 en ek dink julle sal dit nogal geniet. (met erkenning aan Taalgenoot en Ilse Salzwedel.)

In hierdie eeu van ons waarin feitlik alles deur rekenaars beheer of beïnvloed word, is dit nogal lagwekkend om te sien wat kenners destyds alles oor die toekoms van die rekenaar te sê gehad het:

  • “Ons sien Windows nie as ‘n langtermyn grafiese raakvlak (interface) vir die massas nie,” – ‘n amptenaar by Lotus Software Development gedurende die demonstrasie van ‘n nuwe DOS-weergawe in 1989.
  • “Daar is geen rede vir enigiemand om ‘n rekenaar in sy huis te wil hê nie,” – die gevleuelde woorde van Ken Olsen, president en stigter van Digital Equipment Corporation, in 1977.
  • “Maar waarvoor is dit goed?” wou ‘n ingenieur by IBM in 1968 weet, oor die mikroskyfie.
  • “Ek het die lengte en breedte van hierdie land deurkruis en met die beste mense gepraat en ek kan julle verseker dat datavaslegging ‘n gier is wat nie hierdie jaar gaan oorleef nie.” – die redakteur in beheer van boeke oor sake-aangeleenthede by Prentice Hall in 1957.
  • “Ek dink daar is ‘n wêreldmark vir miskien vyf rekenaars,” – Thomas Watson, voorsitter van IBM, in 1943.

‘n Paar ander interessanthede wat maar eerder ongesê moes gebly het:

  • “Kontak oor die kleurgrens heen is welkom, solank as wat die motief daarvoor verdere skeiding van die rasse is,” – Carel de Wet, minister van gesondheid in 1971.
  • “Ons het vrouelede. Hoe kan ‘n organisasie ‘n geheime organisasie wees as dit vroue as lede het?” – Willem de Vos van die Afrikaner Onderwyserskultuurorganisasie (AOK), toe hy oor die geheime status van dié sogenaamde regsgesinde organisasie uitgevra is.
  • “Om te lieg is niks nuut nie. Dit is oral ter wêreld aanvaarbaar. Ekself dink glad nie dis so ‘n slegte ding nie,” – Ndaweni Mahlangu, premier van Mpumalanga, in 1999.
  • “Mevrou Winnie Mandela sit rubber om mense. Ek sit rubber binne in mense.” – Michelle Bruce, voormalige Mej. Suid-Afrika, in 1994, oor die reeks kondome wat sy bemark het.
  • “‘n Man kan en mag meer as een vrou liefhê. Die Bybel verbied dit nie. Salomo het duisende vroue gehad. God het nie gesê dit is sonde nie.” – Wyle Bles Bridges oor sy verhouding met Marietjie van Heerden.

Tong in die kies of voet in die mond? Ja, was stilbly maar eerder die antwoord!

Kaneel se storie Oktober 27, 2007

Posted by unobastardo in Trivia.
16 comments

My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel…

ceylon-cinnamon.jpg

In ‘n goeie Merlot vind jy soms ‘n neus vol kaneel. Wat is kaneel en waar kom dit vandaan?

Dit is Rome, in die jaar 65 nC en die mense sien ‘n dik, donker wolk oor Rome hang, met ‘n soet reuk wat in die lug hang. Is Rome besig om te brand? Nee, dit is net koning Nero wat sy vrou, Poppaea Sabina begrawe. Vir haar begrafnis brand hy ‘n hele jaar se voorraad kaneel op.

Nero het Poppaea verskriklik liefgehad. So lief dat hy selfs sy ma, Agrippina, vermoor het sodat hy met Poppaea kon trou. Maar nou is Poppaea dood en Nero kies om haar te begrawe met kaneel.

En eintlik was dit verskriklik spandabelrig, want in daardie tyd het een pond kaneel 300 denares gekos. En 300 denares was gelyk aan 10 maande se loongeld. Dus was kaneel baie waardevol – ‘n geskenk vir ‘n koning, ‘n offerande vir ‘n gestorwe geliefde.

Al reeds 2000 jaar voor Christus het die Egiptenare kaneel uit China ingevoer. Ook in die Bybel word kaneel genoem. God beveel vir Moses, in Eksodus 30 vers 23, om kaneel en kassie te gebruik om ‘n gewyde salfolie te maak. In Spreuke 7 verse 16-17 maak die minnaar vir sy geliefde ‘n spesiale bed. “Ek het ‘n deken oor my bed gegooi, ‘n deken van bont Egiptiese linne; ek het my bed besprinkel met mirre, aalwyn en kaneel.”

Waar kom kaneel dan vandaan? Herodotus, ‘n klassieke skrywer, vertel ‘n wonderlike verhaal oor die oorsprong van kaneel. Hy het gehoor van groot voëls wat nesmaak in die hoogste bergpieke. Die neste is gemaak van kassie en kaneel. Die neste was te hoog vir mense om tot daar te klim en hulle moes ‘n ander plan maak om by die neste te kom. Die mense los toe groot stukke vleis op die grond naby die neste. Die voëls sou dan afvlieg, die stukke vleis oppik en terugvlieg na hul neste toe. Maar die vleis was te swaar vir die neste. Dit het gebreek, afgeval en die mense kon dan die kassie en kaneel op die grond bymekaarmaak.

Suid-Afrika se verhaal as kolonie loop byna parallel met die stryd om beheer van die kaneel-industrie in Ceylon aan die einde van die vyftiende eeu. Net soos hier, was die Portugese ook eerste daar en in 1518 bou hulle ‘n fort op die eiland. Vir meer as ‘n eeu behou hulle die monopolie.

Maar in 1638 lei die Hollanders se neuse hulle na Ceylon se kaneel en teen 1658 het die Hollanders ontslae geraak van die Portugese. ‘n Hollandse kaptein het glo geskryf: “Die strande van die eilande is vol daarvan en dit is die beste in die Ooste. Wanneer ‘n mens wind-af van die eiland is, kan jy steeds die kaneel ruik – selfs so ver as agt myl die see in.”

Die Hollanders het geëksperimenteer om die beste oesmetodes vir kaneel te kry en het later hulle eie bome gekweek. Maar teen 1796 neem die Britte die beheer van die eiland oor by die Hollanders. Daar was egter nie meer veel sprake van ‘n kaneel-monopolie nie, want kaneelbome is intussen suksesvol aangeplant in ander gebiede en gebruikers het begin om die meer algemene kassie-stam as plaasvervanger vir kaneel te gebruik.

Wat is kaneel nou eintlik? ‘n Stukkie pypkaneel lyk soos ‘n stokkie; ‘n stukkie sjokoladekleurige bas. Beweeg die stokkie voor jou neus verby, dan gee hy sy geheim weg – die onmiskenbare reuk van kaneel.

Kaneel is ‘n spesery wat kom van die binneste bas van ‘n klein immergroen boompie (Cinnamomum verum), inheems aan Sri Lanka en Suid-Indië. Die boompies word 10 tot 15 meter hoog. As die boompies 2 jaar oud is, word hulle afgesny, maar in die jaar daarna groei daar weer omtrent ‘n dosyn lote by die wortels uit. Die bas word van die lote afgestroop en gedroog. Net die binneste dun bas (ongeveer 0.5 mm) word gebruik, die buitenste hout gedeelte word verwyder. Dan bly daar lang kaneelstroke oor wat in rolle opkrul as dit droog word. Dié word dan weer opgesny in 5 tot 10 cm lang stokkies en net so verkoop.

Die beste kaneel in die wêreld kom van Sri Lanka. Dit word egter ook verbou in Tellicherry, Java, die Wes-Indiese Eilande, Brasilië en Egipte. Kaneel van Sri Lanka is fyn, het ‘n dun, gladde bas met ‘n ligte geelbruin kleur, ‘n welriekende geur en ‘n besonderse soet, warm en aromatiese smaak.

Die blare is langwerpig en ovaal, tussen 7 en 18 cm lank, met ‘n groenerige kleur wat blykbaar glad nie te lekker ruik nie. Die geur van die kaneel kom van ‘n aromatiese olie wat minder as 1% van die plant uitmaak. Die bas word rofweg gemoker, in seewater geweek en daarna vinnig gedistilleer om die olie te verkry. Die olie is goudgeel, met die kenmerkende kaneelgeur.

In Suid-Afrika is reëndae gelyk aan pannekoek met kaneel. Melktert sonder kaneel is ondenkbaar. Die Voortrekkers het ook kaneel gebruik om verkoues te genees en ook om diarree te behandel. En as jy volgende keer nie muskietweerder by jou het nie, kan jy maar kaneel gebruik as insekweerder!

Die woord “kaneel” het saam met die Hollanders Kaap toe gekom. Die Engelse woord cinnamon kom van die Griekse woord kinnámomon, en dit herinner ook aan die Hebreeuse woord, qinnâmôn. Die Maleiers en Indonesiërs verwys na kaneel as kayu manis, oftewel soet hout.

Kassie (Cinnamomum aromaticum) is familie van kaneel (Cinnamomum verum) en word eintlik Chinese kaneel genoem. Die gedroogde bas van kassie word ook as ‘n spesery gebruik. By kassie word egter die hele tak en klein boompie geoes vir bas. Die kassie-bas is ‘n baie dikker en growwer tekstuur as regte, egte kaneel. Die kaneel wat in die VSA en Kanada verkoop word, is eintlik kassie. Dit word dan ook  gemerk as “Indonesiese kaneel” om dit te onderskei van ware kaneel. Die Meksikane en Europeërs verkies egter ware kaneel.

Oestyd is woestyd Oktober 26, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
21 comments

harvest.jpg

Soms gaan dit maar rof tydens die oes- en parstyd. En dan kom daar ‘n paar goeie sêgoed vorendag. Hier is ‘n paar wat ek al deur die jare op die lyf geloop het:

“Klap my agter my kop sodat my oë net uit hulle kasse kan spring en ek kan sien.” – ‘n moeë kelderbestuurder wat twee nagte nie geslaap het nie, toe iets vir hom op papier gewys word.

“Ek het nog net drie tenke in die kelder oor: die watertenk, die kompressor se druktenk en die bakkie se dieseltenk wat ek vergeet het om vol te maak.” – ‘n benoude kelderbestuurder met ‘n BAIE vol kelder.

“Hierdie kelder is nou so vol dat hy opgooi!” – ‘n kelderbestuurder met ‘n vol kelder, toe ‘n tenk oorloop.

“Ons kan nou Kakamas se wyne as Wes-Kaap sertifiseer.” – nadat Kakamas, gedurende oestyd, ‘n paar dae na mekaar herhaaldelik kragonderbrekings gehad het.

“Die bakkie is afgeskryf, maar die kajuit is nou groter en goed gerond van binne af!” – nadat een van ons meer gewigtige wynmakers in ‘n ongeluk was en bietjie binne in die bakkie rondgeval het. (Ons was egter almal baie dankbaar dat hy nie ernstig beseer is nie.)

En toe het ek ook gearriveer Oktober 25, 2007

Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.
17 comments

Lank gewik, lank geweeg. Om deel te raak van die nuwe eeu – die eeu van gesels sonder gesig, gesels wat uit my vingerpunte uit vloei. So stuur ek nou ook my siel, my persoonlikheid, my EK (of dalk my ANDER ek – wie sal weet?) deur my vingerpunte na buite. Raak my vingerpunt aan joune? Sal ons dalk later ons vingers ineenstrengel? Wie sal weet en sal dié wat weet ooit oorvertel?

‘n Gedig (van Stef Bos) om die opening van hierdie wynkelder te vier:

Mens moet van twee kante kom

om mekaar te ontmoet.

Jy moet eintlik toevallig onderweg wees,

jy moet geen doel voor oë hê

en jy moet laat gebeur

waarvoor jy bang is.

Jy moenie alles wil verklaar nie,

voor jy jou kom kry het jy

en die ander oorlog verklaar.

Mens moet van twee kante kom

om mekaar te ontmoet.

Jy moet jouself in die ander durf sien

sonder om in die ander te verdwyn …

dit kan opeens

sommer voor jou staan en lyk na iets

waarvan jy liefs wil vlug.

Dit is die aardige van geluk –

jy maak dit waar

of jy maak dit stukkend,

dit kan jou bedrieg

dit kan jou behoed,

maar mens moet van twee kante kom

om mekaar te ontmoet.

Daarmee verklaar ek hierdie kelder geopen – kom proe my wyn!