En toe het ek ook gearriveer Oktober 25, 2007
Posted by unobastardo in Tafeldruiwe.17 comments
Lank gewik, lank geweeg. Om deel te raak van die nuwe eeu – die eeu van gesels sonder gesig, gesels wat uit my vingerpunte uit vloei. So stuur ek nou ook my siel, my persoonlikheid, my EK (of dalk my ANDER ek – wie sal weet?) deur my vingerpunte na buite. Raak my vingerpunt aan joune? Sal ons dalk later ons vingers ineenstrengel? Wie sal weet en sal dié wat weet ooit oorvertel?
‘n Gedig (van Stef Bos) om die opening van hierdie wynkelder te vier:
Mens moet van twee kante kom
om mekaar te ontmoet.
Jy moet eintlik toevallig onderweg wees,
jy moet geen doel voor oë hê
en jy moet laat gebeur
waarvoor jy bang is.
Jy moenie alles wil verklaar nie,
voor jy jou kom kry het jy
en die ander oorlog verklaar.
Mens moet van twee kante kom
om mekaar te ontmoet.
Jy moet jouself in die ander durf sien
sonder om in die ander te verdwyn …
dit kan opeens
sommer voor jou staan en lyk na iets
waarvan jy liefs wil vlug.
Dit is die aardige van geluk -
jy maak dit waar
of jy maak dit stukkend,
dit kan jou bedrieg
dit kan jou behoed,
maar mens moet van twee kante kom
om mekaar te ontmoet.
Daarmee verklaar ek hierdie kelder geopen – kom proe my wyn!


